Polisie beweer dat muise 540kg se dagga geëet het

Almal het al die verskoning gehoor van die hond wat jou huiswerk geëet het, maar wat van dié een – “die muise het 540kg se dagga opgeëet!”?

Agt Argentynse polisiebeamptes is onlangs afgedank nadat hulle vermiste dwelms op muise blameer het. ‘n Inspeksie van die stoorfasiliteit naby die hoofstad van Buenos Aires, Argentinië, het bewys dat daar 540kg se dagga, uit die 6000kg wat die afgelope twee jaar by die polisie se pakhuis opgeneem is, verdwyn het. Die stad se voormalige polisiekommissaris, Javier Specia, en mede-offisiere het aan ‘n regter gesê dat vermiste dwelms deur muise geëet is. Ek weet dat muise van kaas hou, maar dis seker “hoog tyd” dat hulle hul spyskaart bietjie uitbrei.

Forensiese wetenskaplikes het egter getwyfel dat muise wel die dwelms as kos sou beskou en dat hulle waarskynlik sou sterf as hulle dit geëet het. ‘n Woordvoerder van regter Adrián González Charvay het gesê volgens kenners van die Universiteit van Buenos Aires, sou “muise nie die dwelm met kos verwar het nie” – en selfs al het hulle, “sou baie lyke in die pakhuis gevind word.” Ek is geen polisieman nie, maar daar sou waarskynlik ook taamlik baie McDonalds-papiere, toebroodjies, chips, kos en ‘n X-box konsole in die pakhuis rondgelê het indien die muise wel skuldig was. Die hof sal besluit of die dwelms ontbreek as gevolg van “oordadigheid of nalatigheid” en die polisiebeamptes sal daarna gevonnis word.

Javier Specia se opvolger, Emilio Portero, het die vermiste dwelms opgemerk toe hy die kommissarisrol oorgeneem het. Mnr. Portero het die polisiemag se afdeling van interne aangeleenthede gewaarsku. Hulle het toe die pakhuis deurgesoek en kon slegs 5,460kg se dagga vind.

Owerhede het ook onraad vermoed nadat hulle ontdek het dat Specia nie die voorraad vir die gekonfiskeerde dwelms onderteken toe hy sy pos in April 2017 verlaat het nie. Die voormalige kommissaris word ook na bewering ondersoek omdat hy nog nie verlede jaar ‘n beëdigde inkomstestaat ingedien het nie.

Lyk my as die kat weg is, is die muis baas.

 

Ben is 'n Labrador wat daarvan hou om videospeletjies te speel, op te lees oor tegnologie en hou van lang, romantiese stappies op die stran... eh... sypaadjie.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *