Resensie: Two Point Hospital

As jy in die 90’s simulasiespeletjies gespeel het, of net ‘n aanhanger van die genre is, is daar ‘n goeie kans dat jy al Theme Hospital gespeel het. Die mense agter hierdie fenomeen bring uiteindelik na 21 jaar vir ons ‘n opvolger, Two Point Hospital!

Two Point Hospital is ‘n besigheidsimulasiespeletjie deur Two Point Studios en word uitgegee deur Sega. Dit is ontwikkel as ‘n opvolger van die Bullfrog Productions 1997-speletjie, Theme Hospital, en volg ook dieselfde wenresep. Two Point Hospital word ook gemaak deur sommige van die oorspronklike skeppers van Theme Hospital, insluitende Mark Webley en Gary Carr. So mens kan dieselfde snaaksighede, humor en spel verwag.

In Two Point Hospital is jy in beheer ‘n privaat hospitaal en moet jy kamers opbou, toerusting koop en personeel aanstel om pasiënte doeltreffend te laat diagnoseer, genees en vele meer. As jy dit doen, maak jy geld, wat jou laat uitbrei, wat jou selfs nóg meer geld maak laat maak, ensovoorts. Maar in teenstelling met soortgelyke speletjies, kies jy nie die bouplan (of blueprint) van jou gebou nie en bou soveel as wat jou hart begeer nie – uiteindelik sal jy uit die ruimte uithardloop en word dit ‘n speletjie van optimalisering in plaas van uitbreiding. Natuurlik stop alles nie by slegs een hospitaal nie. In die loop van jou mediese loopbaan spring jy tussen verskillende plekke, elk met sy eie unieke uitdagings.

Jy het ook drie sterre wat jy by elke hospitaal kan verdien, sowel as sekere uitdagings wat jy moet voltooi. Daar is hope items wat jy vir jou hospitaal kan koop deur middel van punte wat jou hospitale verdien asook met die geld wat jou hospitaal maak. Die speletjie bied ook komiese animasies en is vol humor geprop. Byvoorbeeld as pasiënte ‘lighooftig’ raak, het hulle letterlik gloeilampe vir koppe, wat ‘n spesiale fasiliteit benodig om te skroef. Klink na ‘n blink plan!


Die personeel wat jy huur, is ook belangrik om te bestuur. Verskillende mense sal verskillende salarisse benodig, maar sommige sal ook spesiale vaardighede hê wat hulle meer vaardig maak op dinge soos diagnose of sekere behandelings. Personeel sal ook vra vir verhogings en promosies soos hulle groei, en word ‘n belangrike deel van jou besigheid, nes daai deftige masjien wat jy nou net gekoop het. Jy kan natuurlik suinig wees wanneer jy dokters huur, maar dooie pasiënte sal jou reputasie seergemaak en kan selfs terugkom as spoke wat dan weggedryf moet word.

Two Point Hospital bied ook slimmer maniere van bou. Jy kan kamers vir spesifieke doeleindes oprig deur net ‘n area aan te wys waar dit moet wees en dan die benodigde items te kies, maar dit is ongelooflik maklik om jou gedagtes later te verander. Met die bougereedskap kan jy ook volledige kamers optel, sodat jy dit kan draai of uitbrei terwyl alles binne in nog dieselfde gehou word.

Gedurende die afgelope paar jaar was daar ‘n paar opvolgers vir Theme Hospital, maar meeste van hulle het vir een of ander rede net nie gewerk nie. Two Point Studios het egter die spyker op die kop geslaan met Two Point Hospital. Dit neem niks weg van wat mense van die oorspronklike liefgehad het nie, maar voel steeds soos ‘n moderne herontdekking van sy voorganger.

Two Point Hospital is 30 Augustus vrygestel vir Linux, MacOS en Microsoft Windows en soos hulle sê: “It’s just what the doctor ordered!”

 

AGTIEN.com se punt vir Two Point Hospital:

 

 

 

Om van ons ander videospeletjieresensies te lees kliek hier!

 

 

Ben is 'n Labrador wat daarvan hou om videospeletjies te speel, op te lees oor tegnologie en hou van lang, romantiese stappies op die stran... eh... sypaadjie.

Kommentaar

Your email address will not be published. Required fields are marked *